21 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Verstaan God? Verstaan God my situasie regtig? Verstaan Hy my nood, my angs, my onsekerheid, my vrees? Verstaan Hy as ek moedeloos is? Verstaan Hy as ek moeër as moeg is?

Die Hebreërboek vertel vir ons van hierdie groot Hoëpriester wat ons het: Jesus Christus. Die taak van die hoëpriester was om boetedoening vir die volk te doen. Slegs hy kon een keer per jaar in die Allerheiligste van die tempel ingaan om, nadat hy vir homself ‘n versoeningsoffer gebring het, ook vir die hele volk voor God ‘n bloedoffer tot versoening te bring. Die hoëpriester het as’t ware tussen die volk en God gestaan.

Hebreërs vertel vir ons dat Jesus, die Seun van God, hierdie hoëpriestersrol oorgeneem het. Dit het Hy eenmalig geword deurdat Hy aan die kruis die volmaakte versoeningsoffer deur sy dood, en namens ons, gebring het.

Maar hoor hoe mooi word Jesus as Hoëpriester bekryf in Hebreërs 4 : 14 – 16:
“¹⁴Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. ¹⁵Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. ¹⁶Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”

Jesus, die groot Hoëpriester, het die inherente vermoë om ons nood te verstaan, en daarmee simpatie te hê. Trouens, deur die hele Nuwe Testamentiese evangelies heen is dit een van die wesenskenmerke van Jesus: dat Hy geraak word deur die nood van mense (om daardeur tog ook iets van die hart van God te weerspieël!). In die eerste plek natuurlik ons nood vanweë ons sondigheid en ons onvermoë om onsself te red – waarvoor Hy aan die kruis gesterf het. Maar in die tweede plek ook vir die gewoon aardse nood, lyding en swaarkry wat ons moet deurgaan.

Omdat Jesus werklik verstaan, word ons uitgenooi om nader staan aan God. Om bewerig, soms huiwerend dit te waag om na God te gaan met ons nood en swaar. Want die troon van God word as ‘n “troon van genade” beskryf. ‘n Plek waar ek genade ontvang; waar ek rus en vrede ontdek; waar ek hoop vind, omdat God medelye en deernis met my as armsalige mensie kan hê, en ook wel het!

Daarom maak Jesus as Hoëpriester vir ons die pad oop na ‘n vrymoedige, verwelkomende, eerlike verhouding met God – die God wat my ken, my verdra, maar wat my ook hestel en vir my genadig wil wees.

Hoekom wag jy nog? Gaan na God, jou Hoëpriester Jesus het reeds vir jou die pad oopgemaak …

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.