22 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Ek lees ‘n aanhaling van iemand wat skryf: “Soms wens ek God wil net saam my koffie drink en sê: ‘Okay, hier’s die plan …!’” Ek moes glimlig, want ek het dit kostelik gevind. Maar ek vermoed ook dit verwoord baie van ons se gedagtes of gevoel op hierdie stadium. Die deurmekaarspul waarmee ons op hierdie oomblik gekonfronteer word, verstaan ek glad nie. Dit sou nogal nice gewees het as ek God se plan agter dit alles mooi kon verstaan …

Maar nou weet ek nie. En dalk is dit ook beter so! Dalk hou ek nie van God se plan nie? Dalk wil ek eerder my eie plan begin maak? Dalk dink ek my eie plannetjies is beter en slimmer? En ek weet mos waar my planne my dikwels laat opeindig …

Wanneer Jesus die kerk leer bid, begin Hy (Matteus 6 : 9 – 10) met:
⁹“So moet julle bid:
“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;
¹⁰laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Hierdie eeue oue gebed leer ons doodeenvoudig om te vertrou; om te bely en erken dat ek my vir hele lewe, met alles wat ek is en het, volledig, onbevrees, en gevul met hoop, op God alleen vertrou … ook op sy plan met my en die wêreld.

Dit is ‘n gebed waarin ek verklaar dat ek gemaklik is met wat God beplan, al is dit ook ‘n geheimenis en verstaan ek dit nie. Dis ‘n gebed waarin ek erken dat dit toe al die tyd nie oor my en my ou wêreldjie gaan nie, maar oor God, en oor sy heilige wil.

Daarom is hierdie gebed meer as net ‘n gebed. Dit is ‘n oomblik waarin ek myself volledig onder God se beheer plaas; waarin ek myself oorgee aan dit waarmee Hy in my lewe en die wêreld besig is. Dis ‘n belydenis dat God in beheer is, en dat beter so is.

Dis ‘n gebed waarin ek vra dat iets van dit wat in die hemel gebeur – en ons weet mos dat dáár dit alles goed en mooi is – ook hier in ons gebroke stukkende wêreld sigbaar sal word.

Dis ‘n gebed waarin ek my wil ondergeskik stel aan God s’n. Want God is heilig. Ons leef in sy wêreld. Sy wil geskied.

Daarom: verstaan ek God se planne? Nee … Vertrou ek God se planne? Ja …

Mooi dag. Wees veilig.

Ds Mauritz

Posted in nuus.