26 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Beleef jy ook soms soos ek dat, in sommige situasies (dalk selfs meeste situasies) my geloof maar klein is. Daar is soms dinge waaroor ek voel dat selfs die Here nie eintlik hieraan ‘n verskil sal kan maak nie. En sulke tye wens ek so dat my geloof groter en sterker was.

Jesus se dissipels het ook eenkeer vir Hom gevra: “Gee ons meer geloof.” Sy antwoord aan hulle was aangrypend – Lukas 17: 6:
“Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.”

Mosterdsaad was die kleinste lewende dingetjie wat die dissipels geken het. Jesus sê dat, as jy die kleinste denkbare bietjie geloof het, sal jy die ondenkbare regkry om vir ‘n moerbeiboom, met sy ingewikkelde komplekse wortelstelsel, te sê om homself uit te trek, én dan in die see verder te gaan groei. Jammer, maar dit maak nie sin nie, en is gewoon nie moontlik nie, en niemand het dit nog reggekry nie! Ek vermoed dat Jesus hier wil sê: julle geloof sal nooit groot genoeg wees nie. Maar dít is juis die punt! Dit hoef nie om God in beweging te bring nie …

Die skrywer, Chris van Wyk, sê: “Die vraag is nie hoe hoog die volume van jou geloof gestel is nie. Die afmetings en omvang is nie belangrik nie, die inhoud wél. Jesus is die inhoud van ons geloof. Die vraag is dus op Wie jou geloof gerig is.” Want sien, my geloof kan faal, maar my God nooit nie!

Wanneer die uitdagings van die lewe en my onmiddelike omstandighede, onmoontlik blyk te wees, is dit die Here op wie jou geloof gerig is, wat jou bystaan en jou dra.
Jesus sê dat dit dan nie eintlik saak maak hoe groot jou geloof is nie, maar eerder wat jy daarmee doen. Waar jy aan God vasgryp, al is dit net met geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie (of selfs kleiner), kan die onmoontlike gebeur. Die skynbaar onmoontlike word moontlik vir dié wat in God glo – wat vertrou dat waar ek nie meer kan nie, kan God nog.

Daarom: glo maar klein, maar glo in ‘n groot God.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.