29 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Ons hoor mos dikwels die vraag: “Waar is God in ons tye van swaarkry?” En dan antwoord ons: “Hy is naby aan ons.” Maar is dit regtig só?

Die boek Openbaring in die Bybel is een van die mees aangrypendste boeke, maar kan ook een van die moeilikste wees om te verstaan. Openbaring het sy ontstaan gehad teen die einde van die eerste eeu nC – ‘n tyd toe die kerk van Jesus wreed vervolg is vir hulle geloof. Dit was ‘n tyd toe die kerk moedeloos was en wou hoop verloor, en ook gevra het na waar God is. Openbaring is God se antwoord van hoop aan die kerk, om hulle toe, én ons vandag, te herinner: God is in beheer en God is hier.

Wanneer Johannes sy openbaring ontvang, sien hy vir Jesus as die lewende Here in al sy heerlikheid. Openbaring 1 : 12 – 16:
”¹²Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien ¹³en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het ‘n lang kleed aangehad en ‘n goue band om sy bors gedra. ¹⁴Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. ¹⁵Sy voete was soos geelkoper wat in ‘n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van ‘n groot watermassa. ¹⁶In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en ‘n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.”

Wat hier kosbaar mooi is, is om op te let waar Johannes vir Jesus sien. Jesus staan tussen die sewe goue staanlampe. Vers 20 sê vir ons wat hierdie sewe goue staanlampe beteken: “en die sewe lampe is die sewe gemeentes.” Johannes sien vir Jesus staan in al sy koninklike mag en majesteit tussen die sewe gemeentes van Klein-Asië. Jesus openbaar Hom aan die kerk in die tyd van sy diepste nood tússen hulle, om hulle te herinner dat Hy by hulle is.

Ek glo dit is vandag nog so. Jesus is lewend, oorwinnend, magtig by sy kerk teenwoordig. Hy regeer steeds in hierdie wêreld, al wil dit lyk of die magte van die bose dit wil oorneem. Daarom kan ons altyd hoop hê. Openbaring herinner ons: aan die einde is dit God wat oorwin, en ons sy kerk, gaan deel in daardie oorwinning.

Intussen leef ons as kerk van Jesus met die kosbare wete: Jesus staan tussen ons.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.