28 Maart 2020

Goeiedag liewe Heuwelkruiner

Ons is by dag twee van die Covid-19 inperking. Ek is seker dis vir baie van ons ‘n uitdaging om nie vryelik te kan rondbeweeg nie. Ek stap deur die tuin en dink aan families wat in woonstelle ingeperk sit, aan families wat in ‘n eenvertrek shack in ‘n township ingeperk is, en ek raak skielik baie dankbaar vir my huis en tuin.

Ek kyk vanoggend na ‘n videogreep waar iemand raad gee vir hierdie tyd van isolasie. Een van die dinge wat die vrou noem is om elke dag ‘n lysie van dinge te maak waarvoor jy dankbaar is.

Dankbaarheid is ‘n Christelike deug. 1 Tessalonisense 5 : 18: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” Ons kan in hierdie tyd so maklik in ons frustrasies, bekommernisse en verliese verstrik raak. Kom ons fokus eerder in dankbaarheid op dié dinge waarin ons God se goedheid en liefde kan raaksien. Daar is die mooi gediggie: “Two men looked through prison bars – the one saw mud, the other saw stars …” As jy af kyk, sien jy die swaar. As jy opkyk, sien jy God wat in sy groot goedheid voorsien, en lewe gee. Hebreërs 12 : 1 & 2b: “1Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.” Wat sien jy?

Wees daarom positief, dank God vir elke stukkie goedheid en seën uit sy hand.

Ek plaas ook hier ‘n skakel na die NG Heuwelkruin Youtube-kanaal vir dié wat internettoegang het.
https://www.youtube.com/watch?v=T5ZOWPs6IYQ
Hierdie is slegs ‘n inleidende videogreep. Ek sal môreoggend vir jou ‘n skakel stuur vir ‘n erediens. Ek sal ook ‘n klankgreep uitstuur, sowel as die teks. Só bly ons verbind aan mekaar.

#blybydiehuis – Wees veilig, vertrou in die Here.

Posted in nuus.