30 Maart 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Ons is by dag 4 van inperking. Ons hoor daagliks hoe die impak van die Corona-virus en Covid-19 ons mense se lewens raak. Ek deel graag met jou ‘n verwerking van Ps 121 wat ek gister gekry het, en wat ons huidige situasie aangrypend verwoord.

Psalm 121 . . . vir vandag

Ek kyk op na die berg wat so stil-stil in my wêreld kom staan het. Die berg wat wegkruip in mense se groet en vat en menswees. Die berg wat vingermerke maak op winkeltrollies en die rakke daar binne leeg koop. Die berg wat angs en paniek en onsekerheid in mense se harte gaan bêre. Die berg wat wagstaan voor die hospitaal en keer dat geliefdes by ‘n hart-se-mens kan uitkom. Die berg wat ‘n wêreld se ekonomie met een hand stop. Die berg wat skole se deure toemaak en lag-lag voor my kerk se hek gaan sit. Die berg wat bejaardes weerloos laat en hulle bang in hulle huise laat wegkruip. Die berg wat besighede sluit en gesinne sonder kos laat. Die berg wat paaie toemaak en ‘n hele land se mense in hulle huise injaag. Ek kyk op na die berg wat so stil-stil in my wêreld kom staan het. Waar sal my hulp vandaan kom? Wie gaan my help om verby hierdie berg te kom?

My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het. My hulp is van Hom wat die son elke oggend wakker maak en vir die maan sê hoe laat hy moet gaan slaap. My hulp is van Hom wat vir die see ‘n lyn in die sand trek, en vir die branders sê waar hulle mag breek. My hulp is van Hom wat die berge in die palm van Sy hand balanseer, Van Hom wat vir die swaeltjie genoeg krag gee om te trek wanneer dit nodig is. My hulp is van Hom wat die Klipspringetjie help om op die rotse te balanseer. My hulp is van Hom wat weet wat my naam is, wat my hart se bang en onsekerheid ken, wat weet waar ek bly en waar ek wegkruip. My hulp is van Hom wat die hemel en die aarde en vir my met soveel liefde en sorg gemaak het.

Dit is Hy wat die vliegtuie en die skepe stop, sodat die aarde weer kan asemskep. Dit is Hy wat horlosies se tyd laat stilstaan, sodat mense weer kan leer om te wees, en nie net om te doen nie. Dit is Hy wat mense een vir een onder een dak bymekaar maak, en hulle daaraan herinner dat hulle ‘n gesin is. Dit is Hy wat die roetine en gejaag wegvat, en kinderlaggies om’n bordspeletjie laat baljaar. Dit is Hy wat mense leer om mekaar weer in die oë te kyk en te gesels. Uit die hart uit te gesels. Dit is Hy wat Sy kerk na mense se huise toe vat, sodat almal Sy Woord kan hoor – nie net op ‘n Sondag nie, maar elke dag. Dit is Hy wat die boodskap van Hoop sag en stil van een huis na ‘n ander oordra. Dit is Hy wat seker maak dat gesinne weer saam bid en Bybel lees. Dit is Hy wat die duisende slagoffers wat oorweldig word deur die berg, stil in Sy arms toevou en hulle verseker dat Hy hulle nooit sal los nie. Dit is Hy wat vir ons gesê het dat ons dit in hierdie wêreld nie altyd maklik sal hê nie. Dit is Hy wat belowe het dat Hy by ons sal wees – vandag, more, totdat ons vir altyd by Hom gaan bly.

Ek kyk op na die berg wat so stil-stil in my wêreld kom staan het. Wie gaan my help om verby hierdie berg te kom? My hulp is van die Here. Nou en vir altyd.

Amen.

Veilig wees. Vertrou in die Here.

Posted in nuus.