3 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Rubber het ‘n wonderlike vermoë: om terug te keer na sy oorspronklike vorm. Die Engelse het vir my ‘n mooi woord hiervoor: “resilience: the ability of a substance or object to spring back into shape”

“Resilience” het ook ‘n meer figuurlike betekenis: “the capacity to recover quickly from difficulties; toughness”. Dit is vir my een van die wonderlike karaktereienskappe om in mense raak te sien. Maak nie saak hoeveel keer die lewe hulle plat slaan nie, hulle staan altyd weer op.

Paulus skryf daaroor in Filippense 4 : 10 – 13:
“¹⁰Ek was baie bly in die Here dat julle na so ‘n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. ¹¹Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. ¹²Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. ¹³Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Paulus praat hier oor die vermoë wat hy aangeleer het om by omstandighede aan te pas, en die beste van elke geleentheid te maak. Ons kan sê dat Paulus “resilience” gehad het – hy kon soos rubber herstel wanneer ongemaklike lewensomstandighede en swaarkry tye hom skeef gedruk het. Paulus erken egter self: hy moes dit aanleer, dit kom nie altyd vanself nie (letterlik staan daar in die Griekse teks dat hy die geheim aangeleer het om aanpasbaar te wees).

Waar het hierdie vermoë van Paulus om weer op te staan egter vandaan gekom? Vers 13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Die klem hier moet ons mooi verstaan. Dit gaan nie oor ‘n onherente menslike vermoë om die skynbaar onmoontlike te vermag nie, maar oor die krag wat van die Here kom om aan te kan pas, en om in uiterste moeilike omstandighede hoop te behou en weer op te staan. Die Here is die Een wat my aan die hand vat en my optel. Die Here is die Een wat aan my as swak, soms stukkende of skeef gedrukte mens “resilience” gee. Die Here is die Een wat vir my genesing en herstel bring.

Die tyd waarin ons nou leef vra van ons “resilience”, die vermoë om weer op te staan, om te herstel. Genadiglik kom daardie vermoë van God af. Hy is die Een wat ons krag gee. Ons sal weer opstaan. Ons sal weer aangaan. Ons hét hoop. God gee die krag daarvoor!

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.