6 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Ek hou nie daarvan nie. En my hele wese skop teen bloot die idee dat dit so mag wees. Maar ongelukkig praat die Bybel net op te veel plekke daarvan. Waarvan praat ek? Die gedagte dat ons geloof getoets word deur lyding en beproewing. Dit klink net nie lekker nie.

1 Petrus 1 : 3 – 9:
³Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop ⁴op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. ⁵En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. ⁶Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings ⁷sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. ⁸-⁹Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Petrus stel dit onomwonde dat ons geloof getoets word deur beproewings – en ons beleef dit ook só. Hierdie geloofstoets moet ons egter sien binne die konteks van wie God is (of van wie ons dink dat God is). Ons moet verstaan dat God se eerste gedagte oor ons altyd ons redding is. God wil tog nie sien dat enigeen van sy kinders verlore gaan nie. Dus, wanneer ons geloof getoets word, is dit nooit met die oogmerk dat ons die toets moet dop nie, maar juis dat ons sterker, méér gelowig anderkant moet uitkom.

Daarom dat Petrus so mooi sê dat God alles in plek stel sodat ons die toetse wat die lewe aan ons geloof in God stel, met vlieënde vaandels kan slaag:
* Ons kry die lewe deur die opstanding van Jesus
* Ons het ‘n onverganklike ewige erfenis in die hemel
* Dit word vir ons bewaar (gebêre)
* Onsself word deur die krag van God veilig bewaar

As God dan reeds vir ons gee wat ons nodig het om die toetse van ons geloof te slaag, hoekom moet ons die beproewinge vrees? Inteendeel, Petrus sê dat ons ons lewensvreugde en hoop in God se trou moet vind, eerder as om bang te wees vir die toetse waaraan ons geloof blootgestel word. Hierdie beproewings wil ons juis herinner aan God se liefde en trou, en dat ons Hom maar kan vertrou, want Hy bewaar ons, Hy wil nie sien dat ons verlore gaan nie.

Ek weet nie hoe jou geloof vandag getoets gaan word nie. Maar mag jy net weet dat God reeds alles vir jou gee om hierdeur te kom, sodat jy na alles, met dankbaarheid en vreugde, steeds aan God die lof kan bring.

Mooi dag. Pas jou mooi op.

Ds Mauritz

Posted in nuus.