4 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Soos ek die nuus lees en opmerkings op sosiale media volg, is dit duidelik dat die meeste Suid-Afrikaners op hierdie oomblik op ‘n slegte plek is. Die aanvanklik inperking, en selfs die verlenging daarvan, het ons gevat en gesê: ons gaan dit oorleef; dit sal ook oorgaan.

Maar wat tans in Suid-Afrika aan die gebeur is maak ‘n mens bekommerd, dalk selfs ‘n bietjie angstig, beslis moedeloos. Ons het aan die begin van die pandemie gesê dat ons wêreld nooit weer dieselfde gaan wees nie, en dat “normaal” ‘n nuwe betekenis gaan kry. Ons vermoed almal dat hier vir ons ‘n opdraende stryd na herstel, én nog groot uitdagings voorlê.

Koning Dawid het in sy tyd deur baie stryd en worstelinge gegaan; daar was baie situasies waar hy beangs en moedeloos was. Een so ‘n keer was met sy eie seun Absalom wat teen hom in opstand gekom het (2 Samuel 15 ev.). Uiteraard was dit vir Dawid ‘n baie moeilike tyd van groot worsteling, ook met God.

Psalm 3 is ‘n psalm wat Dawid in hierdie krisistyd in sy lewe geskryf het (sien vers 1). Dis ‘n psalm waar ‘n mens tussen die lyne Dawid se ondekerheid, vrees en angstigheid optel. Maar veral is dit ‘n psalm waar ons Dawid se geloof raaksien. Mense se woorde aan Dawid is woorde van twyfel wat wanhoop kan saai, maar Dawid sê:

“⁴Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien.
⁵As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af.
⁶As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.
⁷Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie.
⁸Kom tog, Here, help my, my God! U het nog altyd my vyande se mag verbreek, U het die aanval van die goddeloses afgeslaan.
⁹Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk.”

Ja, dit gaan moeilik en ons is bang. Hierdie tyd vra egter van ons om met geloof in God te leef. Om te vertrou dat die Here ook ons lewens in sy hande hou. Soms is geloof en vertroue ook maar ‘n keuse wat ek moet maak. Alles gaan nie altyd goed en lekker gaan nie. Maar met vertroue in God en sy mag, kyk ek anders na die lewe om my, en die uitdagings. Met geloof praat ek anders, doen ek anders, voel ek anders.

Daarom: kom dat ons nie moed verloor in hierdie tyd nie. Ons is saam in die storm. Kom ons bemoedig mekaar met woorde van hoop en geloof.

Sterkte vir die uitdagings wat vandag vir jou voorlê.

Groete

Mauritz

Posted in nuus.