5 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

As kind het ons die gesegde gehad, as iets nie na jou sin uitgedraai het nie, om te sê: “Maar dis nie fair nie!” Min dinge maak my so kwaad soos onregverdigheid en onreg. Dit gaan teen my grein en wese in. Ongelukkig sien ons te veel daarvan deesdae – persoonlik én in die wêreld om ons.

Geregtigheid is God se saak. Geregtigheid lê vir God na aan die hart. God het ‘n hart vir mense wat die slagoffers van onreg is – die Bybel is vol daarvan. Trouens, God roep ons as kerk daartoe op om geregtigheid na te jaag – lees gerus weer Mat. 5 : 6.

Maar nou moet ons ook versigtig trap, want daar is ‘n reuse verskil tussen my geregtigheid en God se geregtigheid. Hoor wat sê Jesus in Mat. 6 : 31 – 33:
³¹“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. ³²Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. ³³Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God (sy geregtigheid – OAV), dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

My geregtigheid fokus op myself – op my en myne se belange en behoeftes. Dit bring soms kommer en onsekerheid te weeg. Dit maak dat ek na my onmiddelike self kyk, en dit kan lei tot vertwyfeling en kommer, terwyl die daaglikse lewe waarin ek en jy onsself bevind in God se hande is en ons Hom daarvoor kan vertrou.

Maar God se geregtigheid is iets anders. God se geregtigheid is nie op die self gerig nie, maar wys juis weg van myself na ander. God se geregtigheid gaan oor God se ywer en liefde vir mense. God se geregtigheid is ‘n anderse geregtigheid waar die een wat oordeel verdien vrygespreek word, en waar die Een wat onskuldig is, gestraf word. Die kruis is die simbool van God se geregtigheid – sy anderse geregtigheid.

En dít is waartoe ons as kerk opgeroep word – om God se anderse geregtigheid na te jaag en onsself daarvoor te beywer, in die diepe wete dat ek God kan vertrou vir my eie lewe se dinge en behoeftes.

Daarom: as ons as kerk in hierdie tyd oor geregtigheid praat, mag ons besef dat geregtigheid vir God essensie is, maar dat ons in ons soeke na en spreke oor geregtigheid, in gedagte moet hou dat ons met God se geregtigheid besig is, en dis dalk anders as wat ons dink …

Mooi dag. Doen wat reg is.

Mauritz

Posted in nuus.