7 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Kom ons dink ‘n biekie verder oor 1 Petrus 1 en geloofstoetse …

Ek dink die belangrike om hier raak te lees is dat ons geloof vir God kosbaar is. Daarom, wanneer ons geloof getoets word te midde van beproewings, uitdagings en swaarkry, moet dit geloofsgroei tot gevolg hê. Die eise van die lewe moet my as mens nie afbreek nie, maar juis opbou, versterk, laat groei.

Petrus gebruik die beeld van goud. 1 Petrus 1 : 6 – 9
“⁶Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings ⁷sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. ⁸-⁹Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.”

Soos ek dit verstaan, word goud-erts diep uit die grond gehaal. Dan word dit in ‘n smeltoond gegooi, waar die hitte die goud van die klip skei. Die goud, omdat dit swaar is, sak af ondertoe, en die “gemors” dryf bo-op – wat dan afgeskep word sodat net die suiwer goud agter bly. Vuur is dus noodsaaklik om by die kosbare goud uit te kom.

So werk dit met ons ook: besproewings is soos vuur wat ons help om die suiwer goud van ons geloof te ontdek en na vore te bring. Dit help ons om in ons geloofslewe die “gemors” te skei van dít waarop dit in my lewe en my verhouding met God werklik neerkom.

Beproewings help ons om in ons geloofslewe te groei; dit leer ons volhard; dit leer ons om vanuit Christus se oorwinning leef; dit kan ons by ‘n “onuitspreeklike en heerlike blydskap” uitbring.

Hoe kan jóú beproewingstyd jou help om die suiwer goud van jou geloof in Jesus te ontdek?

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.