8 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Waarheen is my lewe oppad? Dis dalk ‘n vraag wat jy ook aan jouself al gevra het. En in hierdie onseker tye wil mens ‘n mens amper nóg meer vra: waarheen is alles oppad?

As Petrus aan die gelowiges in die kerk van die eerste eeu nC skryf, dan kry ek die gevoel dat hulle dalk óók met hierdie vraag geworstel het. Onthou: hulle was erg vervolg vir hulle geloof in Jesus, en hulle kon ook wonder of alles regtig nog die moeite werd was.

In Petrus se antwoord aan hulle hoor ek iets van die versekering wat ons kry in die herinnering dat ons as God se kinders vir Hom saak maak, dat ons geloof vir Hom kosbaar is. Ons beproewings en swaarkry gaan nie sommer ongesiens by God verby nie. Dit is vir God ewe belangrik dat ons nie moeg en moedeloos moet word en in ons geloof sal uitsak nie.

Petrus gebruik die beeld van goud om die waarde van ons geloof uit druk. 1 Petrus 1 : 6 – 9
“⁶Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings ⁷sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. ⁸‐⁹Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap.”

Petrus wil sy lesers se oë oplig. Hy wil hulle help om weer vir Jesus raak te sien, eerder as hulle onmiddellike omstandighede. Ons volharding in ons geloof het ‘n ander einddoel: ons saligheid – saligheid beteken ons redding, ons verlossing, die ewige lewe. Petrus herinner ons daaraan dat ons nou reeds deel het daaraan – die ewige lewe is mos nou alreeds ons s’n!

Daarom, as ek as gelowige die vraag gevra word (in hierdie tyd waar ons geloof soms tot die uiterste toe beproef word): “Waarheen is my lewe oppad?”, is die antwoord eintlik eenvoudig: “Na Jesus toe, want deur Hom is my einddoel die ewige lewe.” Leef daarom vorentoe, na jou ware toekoms toe …

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.