11 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

My pa het so ‘n manier gehad om in sy stoel te sit, met sy gesig agter sy hand, en dan het ons geweet: “Die ouman worry alweer …”. En dis ongelukkig nou maar in ons om ons oor goed te bekommer. Die onbekende maak my onseker, onsekerheid maak my bang, dit waaroor ek nie beheer het nie, maak my ongemaklik.

En as ek worry, moenie vir my kom sê dat ek maar net my pakkie “aan die voet van die kruis” moet gaan neersit en opstaan eb wegloop daarvan nie! Want ek weet mos ek gaan daar opstaan en my pakkie weer saamvat. Ons doen dit almal. Ons almal dra ons pakkies saam met ons; party se pakkies van bekommernis is net groter en swaarder as ander s’n …

In Jesaja 41 lees ons die verhaal van ‘n volk in ballingskap wat ervaar dat God hulle weggegooi en van hulle vergeet het. Dan praat die Here deur sy profeet met die volk. Hoor hierdie aangrypende woorde van Jesaja 41 : 10:
“¹⁰Moenie bang wees nie, Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.
Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.”

God herinner sy volk in hulle diepste krisis dat hulle nie vergete of verlate is nie. Inteendeel, hulle moet hoor dat die Here ín hierdie krisis by hulle is, en daarom nie bekommerd hóéf te wees nie. Want Hy is hulle God, Hy help hulle, Hy hou hulle vas, en Hy red hulle.

Ja, ek worry nogsteeds, maar ek weet ek is nie alleen nie. Ek dra my kommer nie alleen nie. Ek loop nie alleen met my pakkie rond nie. En selfs al sukkel ek daarmee om hierdie pakkie van my aan die voet van die kruis te los, weet ek: as ek daar opstaan met met pakkie nog op my rug, dan kom stap die Here saam met my. My pakkie word nie altyd van my weggeneem nie, maar die Here verseker ons: “Ek help jou dra”.

In 2 Korintiërs 12 : 9, toe Paulus met die Here geworstel het oor die doring in sy vlees, moes hy hoor: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Watter ongelooflike troos. Hoe swakker ek voel, hoe meer moedeloos ek voel, hoe meer bekommerd ek raak, hoe meer kom God se kragtige werking in my lewe na vore.

Daarom kan ek met sekerheid weet, oor hierdie pakkie wat ek saam met my rond dra: God is getrou, Hy is by my, Hy help my dra, Hy is sterker as ek.

Doen jou deel, vertrou die Here vir die res.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.