14 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Ek staan vanoggend op met die woorde van die lied wat in my kop maal: “Amen, amen, I’m alive, I’m alive because He lives!” Dit is so ‘n wonderlike en vertroostende wete, om in hierdie afgelope Paasfees juis ook daaraan herinner te kon word.

Ek vermoed in hierdie tye het die dood vir ons, maar trouens vir die hele wêreld, ‘n nuwe baadjie gekry. Ons is in inperking, nie net sodat ons nie die Corona-virus versprei nie, en nie net sodat ons nie siek word met Covid-19 nie, maar aan die einde sodat ons nie doodgaan en deel word van die pandemie se statistieke nie.

In Johannes 11 : 25 lees ons: “Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” Hierdie woorde sê Jesus vir Marta in daardie aangrypende verhaal van Lasarus wat uit die dood opgewek is.

Aan die kruis het Jesus ons sondes gedra, maar die leë graf is bewys dat Hy ook die gevolg van sonde, die dood, oorwin het. Daarom sing ons Liedboek 415: “Jesus leef, en ons met Hom! Dood wie sou vir jou nog bewe?”

Ons leef, want Jesus leef. “I’m alive, I’m alive, because He lives!” Glo jy dit?

Mag jy vandag ‘n wonderlike geseënde dag beleef.

Wees veilig, vertrou in die opgestane Here

Posted in nuus.