15 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Een van die mooi beelde waarmee die Bybel God se verhouding met sy kind beskryf, is dié van God as herder. Psalm 23 spel hierdie beeld dan só mooi vir ons uit. Dis ‘n beeld van koestering en versorging, van rus en vrede, van genade en hoop.

In Jesaja 40 : 10 & 11 lees ons:
“¹⁰Die Here God kom,
Hy is die Magtige, Hy regeer.
Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het,
dié wat aan Hom behoort, is by Hom.
¹¹Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde:
die lammers maak Hy bymekaar in sy arms
en Hy dra hulle teen sy bors,
Hy sorg vir die lammerooie.”

Israel is in ballingskap. Hulle voel hulleself vervreemd van alles wat aan hulle sekuriteit gegee het: hulle land, hulle godsdiens én hulle God. Trouens, die hele Jesaja 40 handel oor God wat deur sy profeet die volk herinner en verseker dat Hy hulle nié vergeet of verstoot het nie, en dat Hy in hierdie krisismoment baie naby aan hulle is. Die volk moet aan die een kant die grootheid en almag van God herken. Maar aan die ander kant moet hulle ook sy tere liefde vir hulle ontdek – al lyk dit vir hulle of Hy hulle vergeet het.

En vir hierdie doel gebruik die Here die beeld van die herder – ‘n beeld wat die volk dadelik sou herken as die beeld van hoe hulle die God van die verbond, die God van die belofte, leer ken het. Hy was nog altyd vir hulle ‘n herder. In hierdie krisistyd sal Hy beslis ook vir hulle ‘n herder wees.

Hoe vertroostend is die herdersbeeld in Jesaja 40 nie? God as herder wat versorg. Wat sy lammers/kudde in sy arms bymekaar maak. Die Herder wat sorg en koester. Dit is dieselfde herder wat ons nou nodig het. En dit is presies die herder wat God ook tans, binne-in hierdie krisistyd, is.

Mag ons in hierdie herderbeeld nie alleen hoop en troos vind nie, maar ook vir God sien vir wie Hy werklik is, as die God wat sy kerk, en elke indiwidu, wil nader trek, omarm en veilig wil koester.

Sien die Herder, vertrou op sy arms om jou.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.