19 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Ek vertel graag en met trots waar en hoe die eerste van ons familie in Suid-Afrika aangeland het. Ek dra met trots die stamname van my familie. Ek onthou met trots en dankbaarheid die verhale van my pa en ma, oor hulle grootword jare, want dit is ten diepste ook my verhale. Die sielkundiges sê dat ons persoonlikhede gevorm word deur oorerwing en die omgewing waarin ons groot word. So is my voorgeskiedenis en die familie waarin ek grootgeword het onlosmaaklik deel van wie ek vandag is.

My wortels in die kerk is vir my baie kosbaar. Die fondament wat my ouers by die huis gelê het, maar ook deurdat hulle my deel gemaak het van die kerk, het my en my geloof help vorm tot waar ek vandag is – dalk die rede hoekom my ouers hartseer-dankbaar was toe ek sê ek wil vir predikant gaan studeer …

Daarom: die voorbeeld van geloof, toewyding en liefde vir die Here en die kerk wat ek in my ouerhuis ontvang het, het my lewe lank nog by my gebly. Ek weet egter ook dit lê veel verder terug as net my ouerhuis. Dit gaan terug tot daar waar die eerste van my familie in Suid-Afrika aangeland het juis omdat hy vanweë sy geloof in Jesus Christus uit sy eie land verban is.

Wat ons geloofswortels so belangrik maak, is dat ons juis aangemoedig word om daaraan vas te hou. Ons word uitgenooi om te onthou. Paulus skryf vir die jong Timoteus in 2 Timoteus 3 : 14 ev.:
“¹⁴Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was ¹⁵en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. ¹⁶Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, ¹⁷sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Daar is baie dinge wat ek kan vergeet. Mag ek egter nooit die Woord van God vergeet nie, wat Hy daarin leer, en hoe dit my geloof in ook in hierdie moeilike tye instand hou. Mag die Woord van God, soos ek daarmee grootgeword het, ook nou, in hierdie tyd vir my ‘n rigtingwyser wees.

Op hierdie manier word die geloof en toewyding van hulle wat my voorgegaan het ‘n motivering om self in my geloof te volhard. Want hulle God is ook my God.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.