24 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

‘n Mens lees en hoor baie daarvan hoe verskillende mense in uiterste situasies op verskillende maniere reageer en optree. Een van die dinge wat ‘n mens oplet is hoe mense absoluut op hulleself gerig raak. Dit gaan oor my belange, my wense, my behoeftes en my sekuriteit … eerste. Ons kan amper sê dat selfgerigtheid ‘n oorlewingsmeganisme word.

Natuurlik kom dit in ook selfgerigte gedrag na vore – ek koop ál die toiletpapier en handreiniger op, jammer vir die ander mense … Ons ken die Engelse uitdrukking wat sê: “Nice guys come second”. Dus van om terug te staan en ander in ag te neem is daar géén sprake nie. Jy kan mos net dink hoe verwoestend dít in ‘n samelewing kan uitspeel – wat nog te praat van in my eie huis?!

In teenstelling daarmee praat Coenie Burger van mense wat: “na buite die stempel van sagmoedigheid, dit wil sê vriendelikheid en mildheid in die omgang met ander, dra.”

Jesus verwoord dit in Matteus 5 : 5:
“⁵Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”

Sagmoedigheid, medemenslikheid en vriendelikheid is dikwels eienskappe in mense waarop neergesien word. Iemand skryf dat: “die afwysing van sagmoedigheid as ‘n leefbare lewensmoontlikheid een van die mees heidense van alle lewenshoudings is.” Aan die wortel van sagmoedigheid lê die onderskeiding tussen “ek” en “jy” – waar lê my belange?

Jesus vra van ons ‘n wegdraai van selfgerigtheid, en ‘n draai ná sagmoedigheid toe. Hoe gebeur dit?
* Daar moet in my ‘n sagtheid kom – ‘n diep ingebore nederigheid voor God en mense
* Ek moet akkomoderend saam met ander begin leef
* Ek moet selfbeheersing kan toepas
* Ek moet vergenoegd kan wees met die lewe wat God my gee
* Ek moet verstaan dat my lewe en lot in veilige hande is, en ek dus nie krampagtig net vir myself hoef te leef nie
* Ek moet leer om geduldig te wag op dit wat God in my hand plaas
* Ek besef dat my lewe nie net oor vandag nie, maar veral ook oor môre gaan

Kom ons leef vandag sag en mooi met die mense wat my lewenspad deel en kruis – dit sal God se hart wys.

Mooi dag vir jou

Wees veilig, wees goed vir ander

Posted in nuus.