27 Maart 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Suid-Afrika is gesluit vir 21 dae … tot almal in hierdie mooi land van ons se beswil.

Viktor Frankl was ‘n Oostenrykse neuroloog en psigiater, en Holocaust-oorlewende. In sy boek “Man’s search for meaning”, skryf Frankl iets wat my altyd sal bybly: In hierdie lewe kan alle vryhede van my weggeneem word, behalwe een: die vryheid om te kies hoe ek op ‘n situasie reageer.

In hierdie situasie waarin ons nou is, waar ons vryheid van beweging en sosiale intersaksies ingeperk word, gaan my denke en keuses ‘n baie belangrike rol speel. Ons moet gesonde en verantwoordelike keuses maak; in my eie belang, maar ook in belang van ander.

Romeine 12 : 1 – 2 “1En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Laat God julle denke/gedagtes vernuwe … Ons moet hierdie tyd ook gebruik om met God besig te wees. Laat toe dat Hy met jou werk: deur sy Woord, deur sy Gees, in gebed. Laat God ook toe om jou gedagtes te vernuwe. Laat Hom toe om jou te leer hoe om te dink oor Hom en die lewe soos Hy wil hê jy daaroor moet dink.
Maar veral vir hierdie tyd: laat God toe om jou gedagtes oor ons huidige situasie te vernuwe; dat jou denke/gedagtes, wat in woorde uitmond, gekenmerk sal wees deur hoop, geloof en liefde.

Die Here seën jou gedagtes in hierdie tyd.

Wees veilig, vertrou in die Here.

Posted in nuus.