30 April 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

In die Bybel leer ons die woord sjalom ken – vrede. Vir die mense van die Bybel het sjalom veel meer beteken as die afwesigheid van vyandskap. Coenie Burger sê: Sjalom gaan “om die volheid van God se heil … oor die heel maak, die herstel van die totale wêreld wat God gemaak het en vandag nog onderhou omdat Hy dit liefhet met ‘n groot en verterende liefde.”

Vredemakers is daarom mense wat meewerk aan ‘n “toestand waarin die lewe kan gedy” (Van Ruler). Vredemakers is mense wat so hulle geloof in God uitleef dat hulle die wêreld om hulle met God se liefde en genade verander en beter maak.

Om ‘n vredemaker te wees kos altyd ‘n prys, omdat dit teen die grein en wese van die wêreld ingaan wat veel eerder streef na chaos en onvrede. Kyk maar net hoe gebroke is ons wêreld en die verhoudinge van mense.

Ek en jy kan net as vredemakers bekend staan as ons geheel en al in ons verhouding met God:
* van Hom afhanklik is;
* kan treur oor ons wêreld;
* sag geword het;
* altyd die regte ding doen;
* genadig leef;
* God bo alles soek

Jesus sê in Mat. 5 : 9:
“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Kinders van God is daarom mense wat geleer het dat ons in God se wêreld leef; dat ons sý heil, sý verlossing, sý liefde, sý hoop na mense neem.

Vrede in die wêreld begin by vrede in my hart; vrede in my hart begin by vrede met God.

Mooi dag vir jou

Sjalom!

Posted in nuus.