6 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Ons is tans in die Heilige-/Stilweek – die tyd waarin die kerk nadink oor die laaste week van Jesus se bediening op aarde vóór sy kruisiging. Ek wil jou uitnooi om in hierdie tyd – en danksy Covid-19 het ons nie ‘n keuse nie – werklik tye van stilte vir jouself te skep. Tye van refleksie, tye van gebed, tye van luister. Ek wil jou dus nou uitnooi tot ‘n oomblik van refleksie:

* Steek vir jou, daar waar jy nou gaan stil raak, ‘n kers aan – net as simbool van die Here se teenwoordigheid by jou, nou …

* Raak stil in jou binneste: probeer jou gedagtes en asemhaling rustig kry. Fokus daarop dat God nou met jou ‘n ontmoeting wil hê …

* LEES: Lukas 23 : 32 – 38 (lees dit twee keer stadig en nadenkend deur)

* Sit vir ‘n oomblik met jou oë toe, en probeer die beeld/prentjie van die teksgedeelte in jou gedagtes oproep: wat sien jy? Wat hoor jy? Wat ervaar jy?

* Kyk weer na die teksgedeelte: wat het, selfs toe jy dit net gelees het, vir jou “opgespring” uit die teks (‘n woord, ‘n frase, ‘n sin) wat vra dat jy weer daarna moet terugkeer en aandag gee daaraan?

* Wat voel jy wil die Here deur sy Woord vandag vir jou sê?

* Watter opdrag gee die Here vir jou n.a.v. hierdie ontmoeting met Hom in sy Woord?

* Sit dit wat die Here vir jou gesê het oor in ‘n gebed wat jy nou tot God kan bid – praat met Hom …

* Neem tyd om vir ‘n oomblik net in God se teenwoordigheid te wees.

* Numeri 6 : 24 – 26
24“Die Here sal julle seën en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

(Deel of stuur asb aan na jou mede-huismense)

Posted in nuus.