7 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Dit is dag 11 van inperking, maar ook dag 2 in die Heilige-/Stilweek – die tyd waarin die kerk nadink oor die laaste week van Jesus se bediening op aarde vóór sy kruisiging. Ek wil jou uitnooi om vir jou ‘n stil tyd te skep:

* Steek vir jou, daar waar jy nou gaan stil raak, ‘n kers aan – net as simbool van die Here se teenwoordigheid by jou, nóú …

* Raak stil in jou binneste, let op jou asemhaling, probeer jou gedagtes stil kry en fokus daarop dat God nóú met jou ‘n ontmoeting wil hê …

LEES: Lukas 23 : 39 – 43 (lees dit 2 keer stadig en nadenkend deur)

* Sit vir ‘n oomblik met jou oë toe, en probeer die beeld/prentjie van die teksgedeelte in jou gedagtes oproep: Wat sien jy? Wat hoor jy? Wat ervaar jy?

* Kyk weer na die teksgedeelte: wat spring as’t ware vir jou op uit die teks (‘n woord, ‘n frase, ‘n sin, ‘n gedagte) wat vra dat jy weer daarna moet terugkeer en aandag gee daaraan?

* Waar sien jy jouself in hierdie teksgedeelte raak? Is jy deel van die skare? Is jy langs Jesus? Wat sê Jesus vir jou?

* Wat dink/beleef jy wil die Here deur sy Woord vandag vir jou sê?

* Watter opdrag gee die Here vir jou n.a.v. hierdie ontmoeting met Hom in sy Woord?

* Sit dit wat die Here vir jou gesê het om in ‘n gebed wat jy nou tot God kan bid.

* Sit vir ‘n oomblik net stil in God se teenwoordigheid.

Numeri 6 : 24 – 26
24“Die Here sal julle seën en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

Ek heg ‘n skakel na Youtube met die lied Amazing Grace – as jy kan, luister gerus hierna …

https://www.youtube.com/watch?v=X6Mtpk4jeVA

Posted in nuus.