14 Julie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Die naaste hemelliggaam aan die aarde is die maan, 384400 km ver. Die son is ± 152 miljoen km van die aarde. Die naaste sterrestelsel aan die aarde is Alpha Centauri, 4.3 ligjare ver – dit werk uit op ± 40 triljoen km. En dit is nog niks in vergelyking met die afstande na die ander sterrestelsels in ons heelal nie. Wat nog te sê van die miljoene der miljoene ontelbare hemelliggame in ons skepping. Wetenskaplikes praat van die “known universe”. want daar is nog baie wat hulle nie gesien het nie. En tog sê die Bybel in Jesaja 40 : 12: ”Wie het … met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal?” Hierdie skynbaarbaar onmeetlike skepping pas sommer heel netjies in God se handpalm in.

Jesaja 40 : 25 & 26:
”²⁵Met wie kan julle My dan vergelyk,
wie is soos Ek? vra die Heilige.
²⁶Kyk op na die hemel:
wie het die sterre geskep?
Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal,
dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.
Met sy groot krag, sy groot mag,
sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie.”

Die Here weet presies hoeveel hemelligame daar is, Hy het hulle self gemaak én getel. En Hy sorg dat nie een van hulle verlore gaan nie. Hoe gaan die Engelse liedjie?
”He’s got the whole world in His hands

He’s got the itty bitty baby in His hands

He’s got a-you and me brother in His hands

He’s got a-you and me sister in His hands

He’s got the whole world in His hands
… “

Is ek en jy dan nie vir die Here baie meer werd as die ganse uitgestrekte heelal wat Hy met soveel sorg instand hou nie? Al is ons stoffies gemeet teen die onmeetlikheid van die skepping, is ek vir God kosbaar. Soos die een skrywer gesê het: “Ek mag ‘n stoffie wees, maar ek is God se stoffie!”

Kyk daarom op na die sterre. Sien die maan. Voel die hitte van die son. En mag elkeen van hulle vir jou ‘n herinnering wees van God se liefde, sorg en getrouheid, ook in jou lewe. Want God is groter as enigiets in die ganse skepping, en Hy is ook vir seker groter as enige krisis, ontnugtering of swaar wat oor jou pad mag kom.

Vertrou op God, Hy ís groot …

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.