15 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Ek vermoed die meeste van ons het die minister se aankondiging in die staatskoerant m.b.t. riglyne oor watter klere in hierdie vlak 4 van inperking gekoop mag word en wat nie, baie vreemd gevind. Ek vermoed baie mense is minder bekommerd oor watter klere hulle mag koop en meer oor waar hulle geld gaan kry om klere te koop!

In my eerste gemeente het ek eendag deur die armste deel van die dorp gery, ‘n woonbuurt met die naam “Down”. Ek het altyd gedink dit word seker “Down” genoem omdat die mense wat daar bly “down and out” is – die armste van die armstes. So ry ek dié oggend by so ‘n bouvallige huisie verby – daar was nie vensters nie, die dak was gehawend en die deur was ‘n stuk plastiek. Voor die huisie in die son het ‘n vrou gesit – maer. Jy kon sien dat die lewe haar al baie moes rondgepluk het – sy het baie ouer gelyk as wat ek vermoed het sy was. Maar wat my opgeval het, was die T-hemp wat sy aangehad het, wit met in rooi letters op geskryf “No Worries”.

Ek vermoed sy het óf nie verstaan wat op die hemp staan nie, óf dat dit ‘n “hand-me-down” was waarvoor sy maar te dankbaar was om iets te hê om aan te trek. Die woorde op die hempie was so uit pas met haar omgewing, en tog sal hierdie toneeltjie my altyd bybly: in Down het ‘n vrou gebly met ‘n hempie waarop staan “No Worries”…

Wat my dalk die toneeltjie gereeld laat onthou, is dat ék tog so maklik kan worry, oor als. Jesus herinner my (en ja, ons almal ken dit goed, maar vergeet nóg makliker) in Matteus 6 om eerder na die veldblomme en die mossies te kyk, want hulle wil my herinner: God sorg. Hoor wat sê Jesus in Matteus 6 : 31 – 33:
³¹“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. ³²Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. ³³Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Jesus se gedagtegang hier is eenvouding en logies:
* Moenie bekommer nie
* God weet wat ek nodig het
* Leef met vertroue in God se wêreld tot sy eer

Ek weet ons wêreld maak ons almal op hierdie stadium ‘n bietjie bang en onseker. Ons is almal bekommerd, dalk nie oor dieselfde goed nie, maar ons voel onseker oor die toekoms. Jesus kom herinner ons dat ons groot God, in sy onmeetlike grootheid, omgee en sorg vir blommetjies en voëltjies, hoeveel te meer sal Hy nie vir my en jou sorg nie? Hy het ons dan só lief.

Daarom: moenie bekommer nie, vertrou God, Hy sorg.

“No Worries”

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.