18 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Laurika Rauch sing ‘n liedjie waarin die lirieke voorkom: “Vergeet om my te vergeet, onthou om te onthou om my te onthou.” ‘n Tannie het eendag vir gesê, ‘n paar maande na haar man se dood, dat haar grootste vrees is dat sy nie meer sal kan onthou hoe hy gelyk, geklink, geruik, gevoel het nie. Herinneringe is vir ons kosbaar; onthou is vir ons belangrik. Die onthou van die verhale van die verlede help ons om nou sin te maak van ons lewe en wêreld.

Mý probleem is dat ek soms van God vergeet. Ek raak so besig met my dagtaak of die alledaagse dinge van my lewe, dat ek skoon van God vergeet. Nog erger is dat ek in my swaarkrymomente ook van God vergeet en nie onthou hoe Hy my in die verlede al gehelp, getroos en bemoedig het wanneer ek deur krisisse gegaan het nie. As ek maar net elke dag, elke moment vir God kan onthou …

In Deuteronomium 8 praat God deur Moses met die volk. Hulle kom deur ‘n moeilike woestynreis, en hulle is oppad om God se beloofde land binne te trek. Hoor wat sê God vir die volk:
²“Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. ³Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom. ⁴Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie. ⁵Jy moet diep in jou hart weet: soos ‘n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.”

Die lewensreis is nooit net maklik nie. Daar ís woestyntye, swaarkrytye, moedeloos-word-tye. Maar die kosbaarste wat God vir ons gee is die vermoë om Hom te onthou. Om t.s.v. die beproewinge steeds vir God te ontdek. Om te onthou wat Hy gedoen het, sodat ons vanuit die herinneringe van die God van gister, vandag saam met God kan leef, met die oog op ‘n môre saam met God.

Dis vir God belangrik dat ons moet onthou. Wanneer God vir sy volk die 10 -gebooie gee, begin Hy daarmee dat hulle moet onthou dat Hy die God van bevryding is. Wanneer Jesus die nagmaal instel, roep Hy sy dissipels op om dit weer en weer te gebruik, tot sy gedagtenis, sodat hulle Hom kan onthou en deur te onthou krag en sterkte kan put. Paulus moedig die jong Timoteus aan om te onthou wat hy by sy ma en ouma geleer het. So is die Bybel vol van herinneringe om te onthou.

Laat ons vandag nie vergeet nie. Laat ons God onthou: wie Hy nog altyd was, maar veral ook wie Hy nou vir ons wil wees.

Mooi dag vir jou. Wees veilig. Onthou.

Groete

Ds Mauritz

Posted in nuus.