18 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Wat is die teenoorgestelde van geloof? Persoonlik dink ek dat die teenoorgestelde van geloof is kleingeloof of dan twyfel. Want kleingeloof of twyfel beteken nie dat ek glad nie glo nie, my geloof is net te min. Ek vermoed dat ons almal sulke tye beleef: waar ek net nie so seker is dat die Here in ‘n bepaalde situasie ‘n verskil gaan of kan maak nie. En dit is nie ongeloof nie, dis net kleingeloof.

‘n Pa het eendag met Jesus ‘n gesprek gehad oor geloof. Spesifiek oor sy geloof dat Jesus sy baie siek kind kan gesond maak, of nie. Ons lees daarvan in Markus 9:
²¹Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”
²²“Van kleins af,” antwoord hy, “en baie keer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”
²³“ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.”
²⁴“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”

Die woorde van hierdie pa het nog altyd vir my baie beteken. Want hierdie is nie die woorde van ‘n geloofsreus nie. Dis nie ‘n selfversekerde uitspraak nie. Dis nie die verstaan van geloof as ‘n kragtoertjie van my kant af nie. Nee, dis die woorde van iemand wat maar te goed weet dat sy geloof te klein is. Wat in homself hom as swak en gering ervaar. Maar wat desperaat genoeg is om dit met Jesus (God) te waag.

Hierdie is die woorde van iemand wat iets van Psalm 94 : 17 – 19 begin verstaan het:
”¹⁷As die Here my nie gehelp het nie, was die stilte van die graf seker al my tuiste! ¹⁸Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. ¹⁹Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.”

Want sien, geloof gaan nooit oor my nie. Dit gaan nooit oor hoe groot of sterk my geloof is, of nie is nie. Maar dit gaan altyd oor God – oor sy krag, sy mag, sy goedheid, sy soewereine beskikking oor my lewe, en oor die wêreld waarin ons leef s’n. Daarom moet geloof nooit gaan oor my geloof nie, maar oor die God in wie ek glo.

Miskien is die kragtigste gebed wat ek en jy kan bid net dit: “Here, ek kan nie… “. Toe Paulus dit gebid het, het die Here vir hom gesê: “My genade is vir jou genoeg.”

Wees maar vandag swak voor God, want Hy is sterk.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.