19 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Ek onthou as kind, was daar in die ouer mense se sitkamers ‘n vertoonkas. In dié vertoonkas was daar allerhande mooi, maar hoogs breekbare, goedies gebêre. Vreeslik mooi om na te kyk, maar daar mag net nie aan gevat word nie. Meestal moes ek met my hande agter my rug deur die glas na die mooi goed gekyk het.

Vandag se mode is anders. Die ornament of glaspot word sommer op ‘n koffietafel neergesit. En dan kom ‘n kind, of die huishulp, of die hond met sy stert verby, en dié (ook breekbare) pot word omgestamp. Soms kraak dit, soms “chip” dit, soms breek dit.

Christene is nie glaspoppies in glaskaste agter geslote deure weggesteek nie. Ons is koffietafel-ornamente wat in die middel van die harde werklikheid van die lewe neergesit word, en deur die lewe rondgestamp word. Niemand van ons word gevrywaar van seerkry, teleurstellings, siekte of bekommernis nie. Inteendeel, dit voel alte veel of ons meer dikwels deur die lewe ge”chip” en gekraak word … en ja, soms breek ons.

Paulus skryf in 2 Korintiërs 4 : 7:
”⁷Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”

Ons het ‘n kosbare skat in ons – dit is die evangelie (goeie nuus) van Jesus ons Verlosser. Maar ons is maar broos. Die Grieks beskryf die kleipotte mooi: brose implemente/houers. En hoe broos het ons nie die laaste tyd ontdek dat ons lewetjies is nie! Ja, ons het hoop, maar ons is kwesbaar, ons bekommer, ons kry seer.

Daarom is die belofte en sekerheid van 2 Kor 4 : 7 so ontsettend kosbaar: die krag – dit wat my as’t ware heel hou wanneer die lewe my wil “chip” of kraak of breek – kom van God af. My hoop en lewe lê in my nie, dis in God. My oorlewing is nie in my hande nie, dis in God s’n. In die Grieks word die krag van God (waarmee Hy in ons werk) beskryf met die woord hiperbole – “in oortreffende trap, uitsonderlik, méér as wat ons kan dink”!

Daaraan kan ons vashou: dat God in oortreffende trap besig is om ons lewens bymekaar te hou. Hy sorg vir ons. Hy gee ons krag. En selfs al “breek” ek, is God se krag altyd daar vir sy kind.

Liewe vriend/vriendin: vertrou maar op die Here, Hy is sterk, Hy hou jou lewe in sy sterke hande.

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.