22 Junie 2020

Goeie môre Heuwelkruiner

Ek word vanoggend wakker met die geluid van die voëls wat so lekker sing. Ek het eenkeer gelees dat iemand skryf dat hy dink die rede hoekom die voeltjies in die oggende so sing, is om vir al hulle vriende te laat weet dat hulle die nag gemaak het en nog leef! Ek kan ook vanoggend sing, want ek het ook die nag gemaak, ek leef!

In Matteus 10 : 26 – 31 praat Jesus met sy dissipels oor die vraag na wie gevrees moet word – om eintlik te sê dat ons nie nodig het om vir mense bang te wees nie, maar eerder om vir God te vrees (hierdie vrees vir God het natuurlik niks met bang wees te make nie, maar gaan oor ‘n eerbied vir God, en om Hom te dien).

Dan gebruik Jesus hierdie pragtige voorbeeld van die mossies – Matteus 10 : 29:
“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.”

In die nuwe Direkte Vertaling staan dit as: “Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie.” Hierdie is ‘n meer korrekte vertaling as die 1983-Vertaling. Want dit is presies wat Jesus gesê het: nie een mossie val op die grond sonder dat die Vader daar by is nie, sonder dat Hy daarvan weet nie – so al asof selfs die mossie se dood vir die Vader saak maak en Hom raak.

In vers 31 gee Jesus dan hierdie versekering: “Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” As God dan vir die mossie sorg; en as God dan besorg is oor die mossie; en as die mossie se dood dan vir God aan sy hart raak, soveel so dat Hy self daar by die mossie teenwoordig is – hoeveel te meer raak ook my en jou lewe én sterwe nie vir God nie? Hoeveel te meer dra God nie kennis van my en jou leed, vrese en besorgdhede nie?

Leer vanoggend by die mossie. Sing jou lewenslied met oorgawe. Sing: “Ek leef, want God is by my!” Sing omdat jy weet: Jy is vir God kosbaar. God is regtig by jou. Bel sommer vandag iemand en sê: “EK het die nag gemaak, want God was by my! Het jy dit ook gemaak?” Loof die Here!

Mooi dag

Ds Mauritz

Posted in nuus.