23 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Verlies kan baie vorme aanneem, en in hierdie tyd is daar baie dinge wat ons as verlies kan lys: vryheid, inkomste, sosiale interaksie, eredienste, ens. In die week lees ek van ‘n ma wat vertel hoe haar dogtertjie as’t ware ineen gestort het vanweë die verlies aan interaksie met skool, maats en famlie – ‘n situasie wat sy nie verstaan nie, en moeilik vind om te verwerk. Elkeen van ons kan talle dinge opnoem wat tot ons ervaring van verlies in hierdie tyd bydra.

Ons natuurlike reaksie op verlies is treur … jy voel dalk ook soms of jy in ‘n hoekie wil gaan sit en huil. Verlies maak emosies los wat nodig is om na vore te kom, waaraan uiting gegee moet word. Dink net hoe uitdagend dít is wanneer jy alleen afgesonder is, of as jy in ‘n huis vol mense is, om aan hierdie emosie van verlies en treur uiting te gee. Ek wonder of die woede wat ons in hierdie tyd by sekere gemeenskappe sien, nie juis die resultaat is van hierdie intense ervaring van verlies nie!?

In Matteus 5 : 4 sê Jesus:
“⁴Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”

“Jesus, hoe kan daar geluk/vreugde opgesluit lê in treur?”

* Jesus kom herinner dat hartseer en verlies ‘n noodwendige deel van ons lewe en wêreld is – Coenie Burger beskryf die evangelie as “klipharde realisme”. Treur is deel van die lewe … en deel van die lewe (ja, ook vir die gelowige) is dus om hartseer te omarm en aanvaar.
* Ek dink Jesus wil ons ook leer dat, wanneer ek na die lewe en wêreld vanuit God se oogpunt begin kyk, treur vir my ‘n nuwe dimensie gaan aanneem. Ek treur nie net oor mý verliese nie, maar ook oor die verliese van ander in die wêreld … wat my tog in beweging moet bring?
* Treur herinner my dat God saam met my treur. Die kortste vers in die Bybel, Joh. 11 : 35 (in die Grieks net een woord) lees: “Jesus het gehuil.” Ons verlies en trane laat God nooit onaangeraak nie. Inteendeel: dis óns gebrokenheid wat God op ‘n kruis laat besluit het!
* Vreugde lê daarin opgesluit dat ek deur my trane heen, die werklikheid van die hart van ‘n liefdevolle God ontdek. ‘n God wat deur die kruis van Jesus heen my red; maar ook in die ontdekking dat Jesus aan die kruis my hartseer en verlies op Hóm geneem het, sodat die wêreld ‘n God kan ontmoet wat my in my diepste hartsnood omarm met sy liefde, krag en troos.

Daarom: vind daardie vreemde vreugde van die treurende vandag in die wete dat God troos, krag gee en hoop bring.

Mooi dag vir jou

Wees veilig, kyk op …

Posted in nuus.