27 April 2020

Goeie dag liewe Heuwelkruiner

Ek weet nie eens meer dag hoeveel dit van die inperking is nie. Ek’t toevallig vanoggend op die kalender uitgevind vandag is ‘n openbare vakansiedag. Ons beleef dit almal: een dag vloei in die ander in …

Jy sou agtergekom het dat ons in ons oordenkings so bietjie stilstaan by die Saligsprekinge – die inleiding tot Jesus se bergrede in Matteus 5 – 7.

Covid-19 en die harde gevolge daarvan wat ons oor die hele wêreld sien en beleef – in terme van die impak daarvan op mense se gesondheid, geestesgesondheid, die wêreldekonomie, die verergering van menslike nood en hongersnood, die politieke spanning wat dit bring, hoe dit mense se lewens op soveel vlakke raak – bring ons net weer diep onder die indruk dat ons inderdaad in ‘n onvolmaakte en gebroke wêreld leef.

Mens besef ook weer opnuut hoe vas ons as mense (ook ons as gelowiges wat die hemel as erfenis het) aan hierdie wêreld is. Ons doen alles in ons vermoë om hierdie lewe en hierdie aarde beter te maak. Ons versamel rykdom en gemak, plesier en mooi goed om ons lewenskwaliteit en -sin te verbeter. In hierdie tyd veral fokus die wêreld daarop om gesond te wees, en ekonomies sterk.

Hoewel die hemel ons erfenis is, is hierdie aardse lewe, nie net vir ons nie, maar ook vir God belangrik. In Joh. 10 : 10 bv. verklaar Jesus dat Hy die lewe in oorvloed bring – wat hierdie aardse lewe insluit! (LW: lewe IN oorvloed, nie lewe VAN oorvloed). Die kosbare is dat God sy geliefde kerk, sy kinders gebruik om in die hier en nou sy goedheid, guns en genade sigbaar te maak. Ek dink juis daarom sê Jesus in Mat. 5 : 6
“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

* God wil hê sy kerk moet meehelp om God se wêreld vir sy mense beter te maak
* Deur te soek na God se wil; deur gehoorsaamheid aan God en sy bekende wil; deur daarop ingestel te wees om die regte ding te doen (Jesus sê: “honger en dors”) word ek ‘n medewerker in die herstel van God se wêreld
* Op ‘n manier is dit dít – om God in die wêreld te verteenwoordig – wat vir my as mens in my gees versadiging bring, sin skep (Jesus: “hulle sal versadig word”), lewe gee.

Vraag: Hoe kan ek en jy, vandag (én môre), ín Corona-tyd, die wêreld vir die mense naaste aan my, maar ook veel wyer, beter maak – sodat iets van God se heerlikheid en goedheid vir die wêreld sigbaar kan word?

Mooi dag

Wees veilig, leef naby die Here

Posted in nuus.