28 April 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Daar is ‘n gesegde wat my altyd so ‘n bietjie onrustig maak: “What goes around, comes around”. In Afrikaans sou ons sê: “Die wiel sal draai” of “Wat jy saai sal jy maai”. Wat my onrustig maak is dat daar ‘n diep waarheid in opgesluit lê wat my daaraan herinner dat hoe ek mense hanteer, na my sal terugkom.

En daarmee bedoel ek nie dat ek nou mense baie goed moet hanteer sodat dit met mý goed moet gaan nie. Dit gaan nie oor ‘n lewensingesteldheid waar ek die guns van die lewe en mense probeer koop of verdien nie. Maar tog is dit waar: hoe ek mense hanteer kom terug na my.

Jesus sê in Mat. 5 : 7
“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

Die woord wat hier uit die Grieks met “barmhartig” vertaal word, het ‘n veel dieper betekenis as net verwysend na die daad om aan iemand goed te doen; of soos ons dit vandag verstaan as om ‘n aalmoes uit te deel of iemand in nood te help. ‘n Ander en dalk beter vertaling sal wees: “Gelukkig is die genadiges (Eng: merciful/compassionate)”. Jesus praat hier oor veel meer as die daad. Dit gaan hier oor my hartsingesteldheid waarmee ek mense se nood raaksien, en dan vanuit my hart daarop reageer.

Maar dit is mos hoe God oor my voel?! Is dit nie juis hierdie hart van God wat Jesus na die kruis gelei het nie? Jesus vra dat ons iets van hierdie genadige/barmhartige hart van God moet ontwikkel teenoor mense.

Maar ons moet versigtig wees ook: ons is dalk al geprogrammeer om “barmhartigheid” met kos en klere te vereenselwig. Ek vermoed dat Jesus veel meer as dit in gedagte het. Jesus vra van ons ‘n barmhartige en genadige lewensingesteldheid t.o.v. alle lewensaspekte. Die kern gaan nie oor wat ek doen nie, want ek kan gee sonder dat ek iets vir die mens voor my voel. Hierdie is ‘n hartsding. Om ‘n hart soos God te ontwikkel. Om anders na mense te begin kyk. En kom ons sê dit maar: Christene kan van die mees ongenaakbare en veroordelende mense op hierdie planeet wees – en dan nog onder die vaandel van Christenskap ook!

In wese dink ek Jesus vra dat ons harte, ons optredes, ons woorde, ons oë met liefde getint moet word. Want dit is hoe God na my kyk; kom ons kyk ook so na ons wêreld. Kom ons word weer sag in ons harte en oë.

Leef sag; wees veilig

Posted in Uncategorized.