29 April 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Ons het die Here nodig … punt. Daar is geen redenasie daaroor of daarrondom nie! Ek is vir my hele lewe (vir elke tree, asemteug, gedagte) geheel en al van God afhanklik. Die beste nuus is dat God dit ook weet. Maar Hy weet nie net nie, Hy doen ook! God voorsien ryklik in ons lewens. Maar die grootste voorsiening van God lê in die kruis van Jesus – dáár ontdek ons die volle liefdeshart van God. As ek die kruis het, het ek niks méér nodig nie.

Hierdie wete verander my as mens. As begenadigde word ek genadig. As beminde leer ek liefhê. As een aan wie barmhartigheid bewys word, bewys ek barmhartigheid aan ander. Omdat ek my diepste lewensnood voor God besef, én erken, het ek werklik die begeerte om ánders te wees, en _“lei dit tot ‘n nuwe, positiewe lewenstoewyding en reine hartsbinding aan die Here alleen”_ (Coenie Burger).

Jesus sê in Mat. 5 : 8
_“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”_

Reinheid van hart gaan oor ‘n positiewe toewyding of oorgawe van ons ganse lewe aan die Here:
* “hart” verwys na die kern van my lewe, en daarom het dit te make met my toewyding aan die Here;
* “rein” moet hier verstaan word in die sin van onverdeeld, dat my hart onverdeeld aan die Here alleen behoort;
* reinheid van hart beteken dus dat God alleen my hoogste liefde en doel is – ek lewe werklik vir Hom alleen;
* ek leef hier op aarde, met my hele lewe wat aan God behoort, om my werk te doen, tussen mense te wees, te speel, te leef; (geloof vat my nie uit die wêreld uit nie, maar juis dieper in die wêreld in …)
* reinheid van hart vra dalk ook in die proses van my en jou om ons los te maak van ‘n paar dinge, sodat ek God ten volle kan ken (sommige vertalers voel hierdie teks kan ook vertaal word met “eenvoud van hart”).

In wese moet ek maar net vir God liefhê met my hele hart, my hele siel, en met al my krag. Reinheid van hart is om vir God raak te sien; en om dan deur sy oë ook vir God in ander te begin raaksien.

Mooi dag vir jou

Wees veilig; wees lief vir God en sy mense

Posted in nuus.