Wat elke vrou moet weet – Vroue-oggend

Wat elke vrou moet weet…

‘n Heerlike saamkuier vir die vroue en vriendinne van Heuwelkruin het op Saterdag, 10 September 2016 by die kerk plaasgevind. Vroegoggend al is die laaste afrondings gedoen, die klank is getoets en eetgoed is uitgepak. Heuwelkruin het nie sommer net ‘n “hier-jy”-spreker vir hierdie geleentheid nie! Hannes van Wyk, Kwêla-aanbieder het kom gesels oor die tema: “Wat elke vrou moet weet”. Die dames is ook met die mooiste sangtalent vermaak deur die Blizz Acapella-groep, wat die oggend met hul stemme ingekleur het.

Wanneer jy na Hannes luister kom jy gou agter dat sy ma vir hom ongelooflik baie beteken en ‘n baie belangrike rol in sy lewe vervul. Hy ontsien ook nie die moeite om na afloop van die funksie vinnig deur te ry Aliwal-Noord toe nie, sodat hy die res van die naweek by haar kan kuier.

Hannes vertel van sy ma en die heimwee wat hy het van grootword wanneer hy anysbeskuit ruik of self ‘n spesifieke parfuumgeur wat hom aan haar herinner. En so met my eie gedagtes wat afdwaal na my moekie verlang ek ook terug na daardie tye wat sy al die seer beter gemaak het, die klein bederfies in my kosblik en haar onmenslike liefde vir haar kinders. En saggies in my hart fluister ek vir haar “Ek lief jou my Moekie!”.

‘n Ma is die anker van ‘n gesin, die gom wat die gesin aanmekaar hou. Om vrou te wees is so kosbaar, en weet ons dit of onthou ons dit altyd? Nee… soms het ons ‘n Hannes van Wyk nodig om ons net weer daaraan te herinner. Wees net jouself! Of jy ’n moeksie, mams, moeder, moekie of net ma is, die Heer het spesiale tyd afgestaan toe hy jou gevorm het. Selfs met die ekstra paar kilogramme of die haarkapsel wat nie goed lyk nie, bly jy ongelooflik kosbaar vir almal wat vir jou lief is. Geniet wie jy is, geniet VROU WEES!

‘n Gemaklike jong knaap, sonder enige aansittery of fiemies…. hy is net homself… Hannes van Wyk wat lief is vir sy ma!

Sonja Jansen

Posted in nuus.