Die Boek Openbaring met Stephan Joubert

NG Gemeente Heuwelkruin bied tydens ons jaarlikse Gemeente Seminaar ‘n groeigeleentheid aan rondom die tema van die Boek van Openbaring. Baie lidmate het baie vrae oor die Boek Openbaring, en met hierdie geleentheid wil ons Christene toeligting bied oor hierdie moeilike, maar ook interessante tema.

Ons is bevoorreg dat hierdie geleentheid aangebied word deur die bekende en gewaardeerde prof. Stephan Joubert.  Hy is bekend vir sy dinamiese aanbiedings, sowel as suiwer teologie wat Christene nie alleen help om die Bybel beter te verstaan nie, maar ook hoe om as Christene meer toegewyd te leef.  Hy is ’n voltydse student van die Woord, asook van mense, goeie boeke en sommer van die lewe self. Grondvat-teologie en geestelike leierskap is van sy groot passies. As tentmakerleraar is hy deeltyds verbind aan Pierre van Ryneveld-gemeente. Dan is hy ook betrokke by Mosaïek-gemeente in Fairlands, asook by Moreletapark-gemeente met toerusting en prediking. Voorts is hy redakteur van e-kerk, ’n virtuele kerk wat weekliks derduisende mense oor die aarde per e-pos en by wyse van ’n groot webblad-bediening en konkrete noodprojekte bereik. Daarby tree hy op as spreker, prediker en leierskapkonsultant by verskeie kerke en ondernemings in Suid-Afrika en oorsee. Tussendeur is hy buitengewone professor in Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n navorsingsgenoot in Teologie aan die Universiteit van Nijmegen in Nederland. Stephan Joubert is ook ‘n bekende skrywer wat al verskeie toekennings verwerf het, soos onlangs die Andrew Murray-prys vir die beste Afrikaanse Christelike boek (“Jesus – ‘n Radikale Sprong”).

Die geleentheid vind plaas DV op Vrydag 17, en Saterdag 18 Augustus 2018 by die NG Gemeente Heuwelkruin, h/v Stratford- en Lucas Steynstraat. Koste beloop R120 pp en sluit ligte etes in. Kontak die Heuwelkruin kerkkantoor vir besprekings en meer inligting.

Posted in nuus.