21 Maart 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner
Soos jy weet is daar môre nie ‘n erediens in ons gemeente nie (soos versoek deur die regering t.w.v. jou gesondheid). Hierdie is moeilik vir ons om te aanvaar. Ons kan ook nie (nog nie) ons eredienste uitsaai op sosiale media nie, en baie van ons lidmate het nie toegang daartoe nie.
Ds Mauritz sal egter môre-oggend via die WA-groep met jou ‘n boodskap deel.

Maar hier is intussen vir jou ‘n paar idees:
Lees Bybel saam as gesin; en bid saam. As jy enkellopend is, nooi iemand om saam met die Bybel te lees en te bid, en gesels saam oor die Woord. (Handhaaf natuurlik afstand en higiëne; vermy fisiese kontak)
* Radio-uitsaaidienste: Rosestad om 8:30; RSG om 9:00
* TV-uitsaaidiens: DSTV Kanaal 145 om 9:00 “Die Boodskap” vanuit Mosaïek-gemeente
* Op Youtube kan jy eredienste “live stream”, bv. eKerk https://www.ekerk.org/artikels/categories/video

Jy kan gerus iemand nooi om saam met jou na ‘n erediens te kom kyk of luister – dink veral aan ons bejaardes of enkellopendes, selfs jou bure. Handhaaf natuurlik afstand, vermy fisiese kontak en was maar die hande.

Prakties: as jy op straat gaan beweeg, kyk uit vir mense wat dalk op ‘n hoek sit en wag vir ‘n werkie; gaan gee gerus ‘n broodjie, met sommer ‘n bemoedigende Bybelteks daarby.
Bel iemand (‘n ouer, familielid, vriend of iemand wat jy ken wat die Here op jou hart sit) en hoor hoe dit gaan.

Vir ons ouers: laai “Bible App for kids” gratis van iStore of Play Store af. Dit is uitstekende interaktiewe materiaal wat die kinders sal geniet.

Moedig kinders aan om vir die oom of tannie langsaan sommer ‘n mooi prentjie te teken van ‘n Bybelverhaal.

Vir stilraak is daar 2 uitstekende “Apps” vir jou foon gratis op iStore en Play Store:
* Pray as you go – ‘n uitstekende toepassing wat jou elke oggend vir 10 minute help om stil te raak en fokus op God

* Reimagining the Examen – ‘n goeie toepassing om aan die einde van die dag mee stil te word

Of lees sommer weer ‘n slag die Bybel vir die pure lekkerte daarvan.

Ons word uitgedaag om innoverend kerk te wees. Vertrou dat die Here jou in hierdie tyd steeds sal seën en voed uit sy Woord.

Kontak gerus ook vir ds Mauritz (079 895 3916) as jy idees het, vrae het, ‘n krisis beleef, behoefte het aan besoek, of sommer net wil gesels.

Posted in nuus.