Nasionale Biddag – 31 Mei 2020

Neem asb kennis van die volgende inligting tov die Nasionale Biddag op Sondag 31 Mei 2020: Beste kollegas,

Die afgelope weke is die behoefte deur lidmate uitgespreek vir die reël van ‘n spesiale biddag.
Ons kerk , haar gemeentes en lidmate ervaar ongelooflike uitdagings in hierdie tyd. Gedurende krisisse soos droogtes en ander rampe was daar in die verlede die gebruik om spesiale geleenthede te reël waartydens voorbidding gedoen is vir spesifieke sake.

Die president het in sy laaste afkondiging melding gemaak van ‘n nasionale biddag op 31 Mei en die godsdienstige sektor opgeroep om daaraan deel te neem. Trouens dit was ‘n versoek deur godsdienstige leiers aan die president, soos ook die vorige versoek om voorbidding, aan die begin van die grendeltyd.

Hy het in sy afkondiging melding gemaak van sake waarvoor gebid kan word. Dit sluit die volgende in:
• Persone wat deur die virus geïnfekteer is.
• Families wat geliefdes aan die dood afgestaan het.
• Persone wat in die voorste linie is om siek mense te versorg.
• Persone wat in die voorste linie is om die verspreiding van die virus te beperk.
• Die president en regeringsamptenare wat belangrike besluite moet neem.
• Navorsers wat ‘n kuur en entstof ontwikkel vir die bevegting van die virus.
• Die land en sy mense wat op ekonomiese en maatskaplike gebied oor ‘n wye front uitgedaag word.
• Kerke, kerkleiers en gemeenteleiers wat moeilike besluite moet neem.

Dit word onder die aandag van lidmate gebring dat daar komende Sondag 31 Mei om 18:30 ‘n geleentheid sal wees om gesamentlik aan ‘n voorbiddingsgeleentheid deel te neem. Die TEAMS- applikasie maak dit moontlik om soveel as moontlik lidmate betrokke te kry en dit sal die platform wees wat gebruik sal word. ‘n Liturgie sal saamgestel en beskikbaar gestel word. Die hoop word uitgespreek dat daar goeie deelname oor ‘n breë spektrum sal wees.

Inligting oor die geleentheid sal wyd versprei word, asook ‘n kort handleiding hoe om van die TEAMS platform gebruik te maak.

Aangeheg is ‘n logo wat gebruik kan word om die biddag onder die aandag van lidmate te bring.

Saam in Sy diens
Gustav Claassen
NG Kerk

Posted in nuus.