1 Mei 2020

Goeiemôre liewe Heuwelkruiner

Die Namakwalanders het ‘n uitdrukking: “Praat is afdraend, doen is opdraend”_.

In die laaste saligspreking word die vraag aan ons gevra: hoe ernstig is ons oor die seën (“geseënd” kom van makarios wat “gelukkig” beteken) wat God gee vir mense wat geheel afhanklik van Hom leef? Is ons geloof net lippetaal, sal ons nooit regtig die seën smaak nie. Maar wanneer ons aan hierdie nuwe lewenswyse wat Jesus vir ons in die Saligsprekinge kom leer, vashou – self tot op die punt van vervolging en dood t.w.v. Jesus – eers dán sal ons die ware seën/vreemde geluk wat God gee, beleef.

Jesus sê in Mat. 5 : 10 – 12:

¹⁰Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. ¹¹“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. ¹²Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Wat Jesus hier doen is om ons uit te nooi om op Hom te vertrou, al gaan dit ons geloof toets. Jesus roep ons om in God se koninkryk volgens God se beginsels te leef, al kan dit ons aan vervolging blootstel. Jesus daag die kerk in Lukas 14 : 25ev. uit om die somme te gaan maak of ons hiervoor kans sien – maar as ons hierdie somme maak oor wat die prys van dissipelskap mag inhou, moet ons altyd onthou van én vashou aan die beloftes van God se nabyheid en trou. Binne die konteks van die Saligsprekinge ontdek ons die vreemde seën en geluk wat die volhardende en getroue navolging van Jesus bring.

In 1 Pet. 2 : 11 word die kerk beskryf as “vreemdelinge en bywoners” in hierdie wêreld. Wat Jesus as die beste lewenswyse in God se wêreld voorhou, is vir die wêreld vreemd en hulle kan dit nie verstaan nie. Maar die andersheid van die kerk is een van die wesenskenmerke van die kerk van Jesus Christus, daarom moet ons dit naleef en koester, selfs al bring dit weerstand, en selfs die dood.

Die seën lê in God se trou, sy nuwe lewe wat Hy skenk, maar in die besonder in die genade en oorwinning van die ewige lewe by God wat Jesus deur sy dood aan ons kom skenk het. Daarom kan ons volgens God se beginsels in die wêreld leef, want ons seën/geluk is veel groter as enigiets wat hierdie wêreld aan ons kan doen.

Mooi dag

Wees veilig; leef sonder vrees voluit vir God

Posted in nuus.