15 April 2020

Goeie môre liewe Heuwelkruiner

Die gees van Paasfees eggo nog in ons harte en gedagtes: Ek leef, want Jesus leef!

Op ‘n manier kan dit egter baie maklik voel soos “a pie in the sky the day that I die …”. Hierdie tyd van inperking en onsekerheid oor die toekoms, veroorsaak dat ons die lewe dalk ‘n bietjie anders as vroeër beleef; en dat om in hierdie tyd werklik sinvol en vreugdevol te lewe, ‘n uitdaging geraak het (dalk hoekom ons op sosiale media sien hoe mense allerhande kreatiewe en soms lawwe maniere uitdink om hulleself in ‘n tyd van inperking te vermaak en besig te hou…).

‘n Aanhaling uit die film Dead Poet’s Society:
Neil: I went into the woods because I wanted to live deliberately. I wanted to live deep and suck out all the marrow of life… to put to rout all that was not life; and not, when I came to die, discover that I had not lived.

Ons het hierdie diep sug daarna om sinvol te leef … ook nóú, in Corona- en Covid-19-tyd.

In Johannes 10 : 10 lees ons Jesus se woorde:
“’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

Jesus praat hier van sy skape (sy kerk?). Daar is diewe wat die lewe by ons wil steel. Dit kan mense wees, maar ek vermoed daar is ook ander dinge soos omstandighede, onsekerheid, vrees, bekommernis, ens.

Jesus gee lewe. Die uitdaging is om in my lewensomstandighede te ontdek: hoe gee Jesus vir my die lewe, in oorvloed?

Ek dink die leë graf help ons tog daarmee. Dat Jesus leef, beteken mos dat Hy ook nóú, hiér, by my is! En dat Hy ook nóú, hiér, vir my die lewe wil gee. Dalk nie noodwendig net die gewone alledaagse lewe nie, maar die lewe wat in Hom alleen te vinde is. Daarom, as ek en jy werklik wil leef en die lewe in oorvloed wil beleef, moet ons dalk so ‘n bietjie nader aan Jesus begin staan, en sý lewe begin ontdek. Dalk net, dán, sal ons werklik begin leef … selfs in inperking en isolasie.

Lééf vandag … naby Jesus

Wees veilig, vertrou in die lewegewende Here

Posted in nuus.